Sunday, 11 December 2011

Die werklike boodskap van Kersfees

Die werklike boodskap van kersfees



"As winkels Jesus uit Kersfees wil haal, dan kan hulle maar eerder hulle eie fees skep, want Kersfees ís JESUS se fees!" – só skryf Rick Warren onlangs op Twitter. Is dit nie tragies dat sekerlik die grootste fees ter wêreld so misbruik en afgewater word sodat daar uiteindelik van die groot bedoeling daarmee nie veel oorbly nie? Dit is asof baie mense doelbewus vir Jesus uit Kersfees wil haal. Winkelsentrums weier byvoorbeeld om geestelike Kersmusiek oor hulle klankstelsels te speel, en al wat oorbly is Kersvader en soetsappige Amerikaanse kersfeesliedjies oor nagereg en sneeu!

Dalk is die probleem juis dat ons as gelowiges dink ons het ‘n fees nodig om die werklike betekenis van Kersfees te beklemtoon. Christene word dikwels kwaad wanneer die groter samelewing Christus uit Kersfees wil haal, terwyl hulle dalk eerder moet konsentreer op hoe hulle Christus in die samelewing kan inbring! Is dit in elk geval besigheid se taak om Christus in hierdie wêreld sigbaar te maak, of die kerk s’n?  

Iemand skryf: “This is the message of Christmas: We are not alone!” Dalk is die oplossing so eenvoudig soos dit: dat die hart van Kersfees weer moet begin klop in die harte van gelowiges! Is dit nie juis ons wat so gemaklik inval by die groter misbruik van Kersfees deur ook te fokus op vakansie hou, geskenke koop, eet, kuier en pret hê nie? Lyk ons kersvieringe regtig baie anders as die res? Natuurlik is dit alles deel van die gee-hart van Kersfees, maar wie sal Jesus in Kersfees inbring, as dit nie sy liggaam is nie?    

No comments:

Post a Comment